GETTING THERE
The routes & carriers
Seat Plans
Airports

INSURANCE
Benefits and cost

LINKS
Lappies Letters & other South African stories

Safaris and more

About us

Home

(Many thanks to Trudie Dreyer of Cochrane for this conribution)

Die Groot Trek met die 4 x 4’s

“Johan, enige plek in die wêreld, net op een voorwaarde, die 4 x 4’s gaan saam”, was altyd my woorde. Zambië en Zimbabwe het deur die mat geval a.g.v. onvoldoende mediese dienste.

Op ‘n dag bel JD en Denise Serfontein met ‘n werksaanbieding, en raai waar? Ja, Kanada!  Na  ‘n senutergende paar maande is ons aansoeke uiteindelik goedgekeur. Net gou ‘n vinnige draai in Zimbabwe en die Kaap (van Richardsbaai af) om familie te groet en nog mediese verslae te kry en ons is op pad!  Nou-ja, avontuur wil ons hê, so pasop Kanada, hier kom die 4 x Dreyer’s  en hul 4x4’s!  Baie trane later word daar afskeid geneem van die 4x4’s in Johannesburg.  Pa, Ma, Tina-Louise (11) en Oloff (9) gaan solank vooruit net om effens grond te vat in ons nuwe land.

 

Die aankoms van die 4x4’s

 Johan moes “maar uithaal en wys” om die 4x4’s halfpad om die wêreld te vlieg.  Na twee weke (wat soos ‘n jaar gevoel het) breek die dag aan dat ons lughawe toe kan gaan om die 4x4’s op te tel.  Julle wonder seker hoekom ons 4x4’s invoer, veral omdat die mense se voertuie, padreëls en sommer alles agterstevoor-om werk?  Ons 4x4’s is egter almal viervoetig, al vier van hulle. Kom ek stel julle voor.  “Lady”, is ons eerste kind. Sy is ‘n bruin Spanjoel en al 15 jaar oud. “Trompie”, is die moffie in die familie , is ‘n wit Maltees en omtrent 10 jaar oud.  Albei is aangenome weeskinders van die DBV.  “Kosie” is die grys strepies kat van 4 jaar en Chiquita die skaam swartetjie van so 3 jaar. Albei is afkomstig van Richardsbaai se troetelwinkel. Ons het sommer ons eie “Rainbow Nation” saamgebring vir die tye wanneer die  verlange te groot word.  Kom kuier gerus! Daar’s altyd honde, katte, tee & koffie, maar net nooit koek nie. (soms ‘n stukkie beskuit.)

 

Lindsay en Duncan Scoular sê nog ewe ons hoef nie lughawe toe te jaag nie want hierdie lot vat maar hul tyd. Hulle weet sommer, want hulle het self hul eie 3x4’s saamgebring. As ons maar net geweet het hoe lank dit sou neem!  Ons is mos in Kanada, nie Afrika nie. Ons sluk vinnig ons tee, groet haastig en daar gat ons heel opgewonde lughawe toe. “Mamma ek kan nie meer wag nie”, sê Oloff.

“Ek hoop hulle is alright” sê Tina-Louise.

 

Almal jaag in by die gebou, haastig om by die 4 voet kinders uit te kom.  Ons verduidelik vir die amptenaar in ons mooiste Afrika Ingels wie ons is en wat ons saak is.

Amptenaar: “We have a problem, the “dogs” didn’t arrive”.

Ek skrik my boeglam en vra: “ What about the Cats?”

Hier antwoord die kêrel heel kalm en sonder om eers op te kyk, “Yes the cats are here.”

Teen die tyd is ek en Tina-Louise byna in trane en vra, “So what happened to the dogs?”

Weereens,  baie kalm antwoord hy. “The dogs are here in the back”.  Ek vra jou, hoe kan hy eers sê die “dogs” is nie hier nie en dan skielik weer, ja hulle is hier. Iewers maak iets nie sin nie. Ons vra maar weer: “ But you said the “dogs” hadn’t arrived”.

Amptenaar: “The dogs are here but the “Doc’s” are not, and the Agricultural Inspector won’t release your animals without them.

Daar is die oplossing, hy sê “Doc’s” en ons hoor Dogs!

 

Om ‘n lang storie kort te knip wag ons vyf ure om ons diere te kry!  Die dokumentasie (hulle “Doc’s) het op Amsterdam “voete” gekry.  Heel verlig ry ons uiteindelik in die klein gehuurde Toyota met ‘n hond op elke kind se skoot en die twee katte in hul boks tussen die kinders. (Al wat ons kort is die hoenders op die dak).  Oppad woonstel toe verdwaal ons vir die hoeveeltste keer op Sarcee Trail, wat eintlik twee paaie is met een naam.

 

Na twee maande se verblyf in die Olympic Village net reg om Cochrane toe te trek, raak Koos weg!  Dit was ‘n groot antiklimaks en almal se harte was maar baie, baie seer. Hier trek ons na ons splinternuwe huis toe en die familie is onvolledig. Ons huil vir maande hieroor. 

 

Die aanpassing vir die 2x4’s- die honde.

 

Lady en Trompie hou net mooi niks van hul leibande nie.  SA se erwe is mos lekker groot! Hier moet hulle skielik vir “walk’s” geneem word en wie ookal, moet altyd ‘n paar plastiek sakkies saamdra. Net soos hulle klaar hul ding gedoen het en dink hulle kan lekker aanstap is daar ‘n onderbreking. Uit kom die sakkie en daar moet eers opgetel word. Na ‘n ruk besef hulle wat die storie is en kry sommer so ‘n skaam uitdrukking elke keer as dit sulke tyd is. Aai tog, knoop maar die sakkie mooi styf anders stink dit iets vreesliks! Soek maar gou ‘n openbare vullis drom anders gaan die klanke saam huis toe. Die twee kla sommer baie hard: “ As ons inkom van ons stappies af word ons dadelik “basement” toe gestuur. Ons het mos nie skoene om by die voordeur uit te trek nie en nou moet ons wag totdat ons voete droog is daar onder in die gat”.

 

Vir ‘n tweede keer moet Pa maar weer uithaal en die keer om ‘n heining op te sit sodat die diere buite kan rondloop sonder om op die bure se gras te “mors”. Elke nou en dan hoor ons “woef” by die skuifdeur as Lady ‘n draai wil loop. Sy geniet nogal hierdie “wit sand” en steek haar neus sommer so twee duim onder die sneeu in. Soms vat sy te lank na Ma se sin en word sy gehaal uit die koue uit want sy is mos te oud om koud te kry. Trompie “woef” glad nie. Nee wat, hy is te bang vir die koue en hoekom moet hy uit as hy sy been sommer so skelmpies teen die muur kan lig. Dink die mense dan hy is ‘n  “coyote” of wat? As hy uitgevang word is hy skoon skaam en steek hy sy kop weg. Hy dink as hy sy kop wegsteek sal ons hom nie sien nie. (‘n Afrika streek dalk). Na ‘n paar baie harde woorde, neus gevrywery, en ‘n hou op die boud (net saggies want jy mag mos nie hier aan die kinders slaan nie), het hy besluit ‘n vinnige in en uit,  met net drie pote wat vat-vat aan die sneeu is ‘n beter idee!

 

Elke aand as dit slapenstyd is moet almal padgee voor die trappe.  Lady moet eers spoed kry voordat sy dit maak tot by die eerste “landing” van die trap. Eers so bietjie rus en dan verder tot bo. Soms moet iemand maar so bietjie help ook. Nou word daar gefluit en geroep en gou-gou is al vier diere bo in die kamer. Dis nou lekkergoed tyd en uit kom die “Jerky Treats” en almal kry ‘n repie. As almal klaar geëet het dan het hulle vrede met Ma. Lady lê en slaap aan Pa se kant van die bed op die mat. Trompie, Ma se moffie, sê “Aikona, ek slaap nie op die vloer nie! Eerstens ek het mos nie vlooie nie (hulle het gevrek van die koue), die vloer is te hard en buitendien het julle nie gesien dit sneeu daar buite nie. Ek slaap te lekker tussen my mense op die bed. Soms kruip ek saggies op tot bo waar die kussings is. As my Pa by die huis is  (hy vlieg baie rond) moet ek maar baie versigtig kussings toe mik.  Sy stem is baie dik. Ag tog, soms is my tydsberekening effe uit en dan slaap Pa nog nie. Net daar word ek opgeraap en by Oloff in die bed gesit. Min weet hy, nou-nou is ek weer by hulle, die keer sal ek net wag totdat ek Pa se gesnork hoor.”

 

“As oom Dries en tannie Riana Brand hier by ons deur klop is my hart sommer baie bly. Sodra hulle gaan sit dan is ek sommer ook daar tussen hulle, want aai hulle krap my ruggie so lekker. Oom Dries’ulle was net konstant hul hande, dink hulle ek is dan vuil? Eendag het ek gehoor dat hy allergies is, of so iets, ek hoop net nie dit is vir my nie! Dis darem lekker hier in Kanada nê.”

 

Smiddae, klokslag so by 3 uur, word daar verskriklik geblaf en gedans al om Ma se voete. Dis nou tyd vir  “walk’s” en wie gee nou om wat Ma mee besig is. Dit bly ‘n geblaf en gedans totdat die leibande aan is en ma die voordeur oopmaak, bewapen met plastiek sakkies en al.

 

“Julle weet, hierdie huise het mos nie buite wasbakke nie. Dit is nou vir jou ‘n “bargain” want dan hoef ek mos nie te bad nie”, dink Trompie. “Aai tog eendag lê ek nog te lekker op die bed, en toe ek my weer kry is ek saam my Pa in die stort. Die water is al in my gesig, maar Pa was vir ‘n vale! As Pa klaar is word ek vir Ma aangegee wat reg staan met ‘n vrag handdoeke. (geskenk deur tannie Riana) en ‘n haardroeër. Julle kan dink hoe moet ek stoei om weg te kom van hierdie gemartel. Nou besef ek die tekort aan ‘n buite wasbak was glad nie so ‘n “bargain, after all nie.”  Somtyds wonder ek of dit regtig so lekker is hier in Kanada!

 

Chiquita se aanpassing.

 

Chiquita, Tina-Louise se pikswart kat is eensaam en treur want haar maatjie is mos weg. Tina-Louise bederf haar egter vreeslik.

Elke keer as ‘n buitedeur oopgemaak word, spring al wat leef om seker te maak dat “Chikkie” nie by ‘n deur uit gaan nie. Hier is katte mos “indoor” pets.  Juis toe ek in die woonstel was om vir oulaas na Koos te soek en Johan reeds in die huis ingetrek het, het ‘dame’ uitgekom deur  die droeër se uitlaat gat.  Die volgende oggend sit “madam” heel onskuldig onder die “deck”. Johan het natuurlik niks gesê totdat hy haar weer gekry het nie.

 

Chikkie vertel eendag: “ Het julle daai groot rotte daar op die golfbaan gesien?”

Eendag gaan sy vir ‘n stappie met haar leiband, en was dit  nou ‘n regte “palawe”.  Eers sit ons haar buite  neer  en wag dat sy moet stap, maar nee wat, sy sit stok styf en weier om te beweeg. Waar het julle nou al gehoor van ‘n kat wat met ‘n leiband moet gaan stap?  Na  so ‘n rukkie skraap sy bietjie moed bymekaar en probeer loop. Sy lyk egter nes ‘n verkleurmannetjie wat ‘n vlieg probeer vang.  Mettertyd het sy so kruip-kruip tot by die draad gevorder en en weet julle, al die tyd is daai rotte toe ‘gophers’.

 

 

 

Die nuwe aankomeling.

 

Soos die weke aanstap het Oloff al hoe meer besef dat hy nie meer sy eie dier het nie.  Johan kry opdrag: Gaan soek vir Oloff ‘n kat.  Die twee is daar weg en nie te lank nie is hulle terug met so ‘n rooibont bondeltjie wat maar nie te waffers lyk nie. Dis toe ‘n baba wyfie kat wat lyk soos ‘n uitgeteerde leeu welpie. Oloff blom, en die nuweling word orals saamgedra en opgepiep. Sy word “Nakiska” (Nikkie) gedoop.  Chikkie is glad nie ingenome met die nuweling nie. Soms sien jy net naels, hare en baba katjie waai. Na twee weke gaan dit egter baie beter en die twee begin groot maats word.

 

Die huis lê nou gereeld vol kinder speelgoed wat Nikkie uit die kinders se kamers steel en die wêreld vol dra. Dit is sekerlik ook die enigste Kanadese kat wat g’n woord Engels verstaan nie en vlot Afrikaans ‘praat’.

 

Soos julle almal weet is die aanpassing maar groot en die verlange nog groter hier in die vreemde. Vir die diere was die aanpassing seker maar net so groot.  Ons is egter nie spyt dat ons ons hele “familie” kon saambring nie en so die aanpassing en verlange so ‘n bietjie makliker gemaak het nie.

 

Kosie ons sal jou nie vergeet nie en ons mis jou ou grote.

 

Baie groete

4x2 voet Dreyer’s en die 4x4’s

Cochrane.

 

OR CONTACT A SPECIALIST AT SOUTH TRAVEL INC - Tel (403)277-6884 or email info@southtravel.ca